Monday, October 30, 2006

Pietman & Barbara



Ons was die naweek na die Idiliese Paternoster toe teen die weskus om my nefie Pietman en Barbara se troue by te woon. Dit was heerlik gewees! Ons het in die oulikste B&B gebly, die mense was gasvry en die diens baie goed, ons het 'n lekker ontbyt ook bygekry. Ons het ook die opsie gehad om net vir een aand te bly terwyl baie van die ander gastehuise jou verplig om die hele naweek te bly/betaal.
Pietman en Barbara het in die St Augustine Chapel getrou en daarna was die onthaal in die Paternoster Lodge. Hulle het sommer die hele lodge bespreek vir die familie om daar oor te bly. Die venue is op die see en regtig baie baie mooi, die mense wat die saal moes regkry was net so 'n bietjie stadig en ek kon sien die bruid se pa raak ongemaklik toe die glase vir die wyn 10 minute voor die paartjie arriveer nog nie op die tafels is nie. Verder was die aand heerlik en ons het gedans en gekuier tot duskant middernag.
Baie belangrik is die rol wat jou seremonie meester speel, ek het dit net weer besef die naweek. Mike, Barbara se broer het dit met soveel gemak gedoen en was so spontaan snaaks dat die gaste dit onmiddelik aanvoel. Wanneer 'n seremonie meester gevorseerde grappies maak en dit nog onder die beld ook is, hang die ongemaklikheid sommer dik in die lug! Hou dit kort en kragtig en wees net natuurlik.
Ek moet sê die realiteit van in die paadjie afstap begin nou erg inskop - ek was amper so tens soos die bruid toe sy in daai paadjie afstap. Haar troos aan my was "Toemaar, as jy eers jou makeup en rok aan het dan voel jy soos 'n prinses en dan ontspan mens ook sommer" en ek moet sê Barbara, jy het waarlik soos een gelyk!

No comments: